Wat's dit met 27?
Die 27 club se jongste slagoffer het downloads op iTunes laat wemel en Amy Winehouse is nou in die geselskap van groot geeste soos Jimi Hendrix en Janis Joplin.
Amy Winehouse se ontydige dood Saterdag het haar 2006-album Back to Black laat opskiet na die top-posisie in die iTunes Britse download chart. Die titel van die album maak dit baie ironies en dit bly weird hoe musos ge-immortalise word as hulle die emmer skop.
Amy se aansluiting by die 27 club gaan haar nog dieper in die onsterflikheidslysie inkerf. Dis heel te verstane dat mens nooit gatvol sal word vir legends van die 27 club soos Jimi, Jim, Janis en Robert Johnson se musiek nie. Maar of Amy se musiek in daai klas is, is 'n ope vraag. Yes, sy het 'n goeie stem gehad, maar mense soos Jimi, Morrison en Joplin was pioniers. Vat maar nog 'n lid van die 27 club Kurt Cobain wat pretty much eiehandig 'n nuwe musiekgenre laat ontstaan het, naamlik grunge. Sure, ouens soos Pearl Jam het ook 'n moerse belangrike rol gespeel, maar hulle musiek was ietwat meer tegnies as die tipiese grunge waar power chords oordonderend gebruik word.
Mens wonder ook wat sou gebeur het as mense soos Jimi en Morrison langer op aarde was. Sou hulle musikale grense verder bly verskuif het of sou hulle begin stagneer het? Daar's seker ietwat van 'n antwoord verskuil in bands soos Pink Floyd wat nie 'n lid van die 27 club gehad het nie.
Dit bly egter tragies dat talent op die jong ouderdom van 27 net so in die niet verdwyn. Meeste van die 27 club-lede het ook grotendeels hul eie dood veroorsaak met die amper obsessiewe gebruik van drank en dwelms. Wonder of dit die rede is dat Ozzy se guitarist Randy Rhoads op 25 dood is en nie 'n lid van die klub is nie. Hy was glad nie 'n suiplap soos meeste van die ander 27-lede nie, maar het wel sy nikotien gesmaak.
Vat vandag so minuut stilte en dink aan al die groot geeste van die 27 club, en wat hul musiek vir jou persoonlik beteken. En as jy 'n muso is, en jy's nog nie 27 nie, vat dinge dalk so bietjie rustiger.




Facebook Group
Twitter